Ons (MCM) sou seker ons werk kon probeer doen sonder om ons Christelike geloof daarvan deel te maak. Ons sou seker ‘n sekulêre of humanitêre hulpsorganisasie kon probeer wees wat maar net vir mense kosgee en omgee. Maar ons is nie. Ons is ‘n Christelike organisasie wat Christus se hande en voete wil wees in die Paarl. Ons is ‘n organisasie wat nie net streef daarna om die regering se vereistes rondom NPO’s, NGO’s en PBO’s na te kom nie, maar veral God se koninkryksvereistes na te kom. Dit is ‘n eenvoudige vereiste. ‘n Gebod – dit is liefde. God se liefde.

Ons laat ons lei en leer deur die Gees – elke dag. Ons neem nie besluite sonder dat ons kan sê “ons en die Gees het besluit” nie. Die Woord vorm die fondasie waarop ons ons werk bou. Sonder God se Woord sal ons huisie in die sand en niet wegsak. Die Woord is werklik ‘n lig vir ons pad.

Waar ons by die taxi staanplek saamkom elke oggend, is dié klein Gideonsbybel deel van elke gesprek. Ons het die Woord nodig. Dit is so hartroerend om te sien hoe elke oggend se stilword rondom die Woord, ons hawelose mense versterk en bemoedig. Wanneer ons “amen” sê is dit asof hul weer dieper asemhaal en of hul oë verder kan kyk.

Ons werk daagliks met stukkende mense. “Ons sou seker ons werk kon probeer doen sonder om ons Christelike geloof daarvan deel te kon maak”, maar ons kan nie al sou ons ook probeer. Want alleenlik met Jesus-liefde kan mens stukkende mense lewegewend liefhê!